Om Geld Uit Te Leen Wat “Op Versoek” Terugbetaal Moet Word : Pasop Vir Verjaring!

Dit is redelik algemeen vir familielede om geld aan mekaar te leen wat ‘op versoek” terugbetaal kan word. Dink maar aan ouers wat geld aan hul kind leen wat gaan studeer, of volwasse kinders wat geld aan ‘n ouer leen wat dalk ‘n groot deposito vir mediese prosedures of verblyf in ‘n versorgingsfasiliteit benodig. Dit kan ook gebruik word vir ‘n lening tussen verwante besigheidsentiteite.

Wat beteken dit egter om ‘n lening “op versoek” of “op aanvraag” te kan opvra. Beteken dit is eintlik maar op ‘n “never-never” basis? Of beteken dit die lening is vanaf dag een opeisbaar en betaalbaar, maar dat die uitlener self kan besluit wanneer die betaling opgevra gaan word. Indien dit die geval is, wanneer begin verjaring loop op die lening en wanneer sal die lening dan nie meer regtens opgevra kan word nie?

Die Grondwetlike Hof gee leiding hieroor …

“…prescription started its deadly trudge on the day the loan at issue in these proceedings was advanced” (dit kom netso uit die uitspraak.)

Jy weet waarskynlik dat gewone skulde na ‘n periode van drie jaar verjaar. Die skuld kan dan nie meer verhaal word nie. Daarom is dit vir ‘n skuldeiser belangrik om te weet wanneer verjaring van enige skuldbedrag begin om te loop. Van daardie oomblik begin die stophorlosie tik.

Die Grondwetlike Hof het onlangs ‘n geval van verjaring hanteer met ‘n lening wat “op versoek” terugbetaalbaar was.

Wat beteken dit as skuld “op versoek” terug betaal moet word?

As jy geld aan iemand uitleen, wat “op versoek” betaalbaar is, dan hoef dit nie betaal te word totdat jy die lening opvra nie. Dit is algemeen om sulke lenings tussen familielede te maak of tussen verwante besighede of maatskappye binne ‘n groep. Jy sou dalk dink dat omdat hier geen datum vir terugbetaling ooreengekom is nie, dat verjaring nie loop nie. Dit is dan totdat jy die lening oproep, wat oor 5 maande of 5 jaar of 50 jaar kan wees.

Tog nie. ‘n Lening wat “op versoek” terugbetaalbaar is, is vanaf dag een opeisbaar en betaalbaar. Jy kan wel “op versoek” ‘n datum aandui vir terugbetaling. Jy kan dus op enige dag vra vir die lening om terug betaal te word. Dit hou in dat verjaring begin loop op die dag waarop die lening toegestaan word en nie op die dag waarop jy besluit om die lening op te roep nie.

Dit klink wel vreemd en moontlik verwarrend, maar ons neem ons leiding van die beslissing van die Grondwetlike Hof. (Die verduideliking wat volg is tegnies; as jy eerder net wil weet wat die praktiese resultaat is, kan jy hierdie gedeelte los en kyk wat hieronder op praktiese vlak aangaan.)

Is die lening op die “never-never” of nie?

  • Maatskappy A leen aan Maatskappy B ‘n bedrag van R3,05 miljoen. Die partye kom ooreen dat die lening terugbetaalbaar sal wees wanneer die uitlener ‘n skriftelike kennisgewing aan die lener gee om die lening binne 30 dae terug te betaal.
  • Maatskappy A het ses jaar later betaling van die lening opgevra en skriftelike kennisgewing hiervan aan Maatskappy B gelewer. Geen betaling is ontvang nie. Maatskappy A het ‘n jaar later as gevolg van die versuim om te betaal ‘n aansoek vir likwidasie teen Maatskappy B geloods. Die verskuldigde bedrag het intussen tot R4,6 miljoen gegroei. Die Hooggeregshof het hierdie aansoek vir likwidasie van die hand gewys. Die hof handhaaf Maatskappy B se verweer dat die lening na drie jaar reeds verjaar het.
  • Die Appèlhof en daarna die Grondwetlike Hof het hiermee saamgestem –
  • ‘n Kontraktuele skuld is betaalbaar soos wat dit in die ooreenkoms bepaal is. As geen datum vir betaling ooreengekom is nie, dan is die fondse onmiddellik na kontraksluiting betaalbaar.
  • As die ooreenkoms egter duidelik bepaal dat die skuldeiser die tyd vir nakoming kan bepaal en dat die skuld by ooreenkoms eers dan verskuldig en betaalbaar raak, dan sal verjaring eers vanaf daardie dag loop.
  • Op die gegewe feite (en op die howe se interpretasie van hierdie spesifieke ooreenkoms) het A se reg om betaling op te eis onmiddellik ontstaan toe die lening aanvanklik toegestaan en die geld oorbetaal is. A kon enige tyd vir B die ooreengekome 30 dae kennis gee om te betaal; gevolglik het hierdie eis 3 jaar later al verjaar.

A kan dus nie die aangeduide bedrag van R4,6 miljoen en verdere rente verhaal nie. Die regskostes in die Hooggeregshof, daarna in die Appèlhof en uiteindelik in die Grondwetlike Hof sou ook verdere finansiële onkostes meebring.

Die hof wys daarop dat skulde tussen familielede dikwels op die “never-never” basis hanteer word en om aan te haal “(the debt) won’t be due, in any sense, legal, technical or practical, until you say, ‘Please won’t you pay back’.” In die geval van die meeste handelsooreenkomste, sal verjaring egter dadelik begin loop sodra die geld oorbetaal is, tensy die partye baie duidelik ‘n ander reëling in hul leningsooreenkoms vervat.

Uit ‘n praktiese oogpunt wil jy nie hê dat jou eis verjaar en jy jou geld kwyt is nie.

Dit is ingewikkeld en verwarrend. Die Grondwetlike Hof se uitspraak was ook nie eenparig nie. Die hof was 6-5 verdeeld met die beslissing oor verjaring. Uit ‘n praktiese oogpunt wil jy jou geld en jou eis beskerm.

As jy nie ‘n datum van terugbetaling ooreenkom nie, maar wel die lening “op versoek” kan opvra, moet jy baie duidelik in die ooreenkoms uiteensit wat die partye presies daarmee bedoel. As die bedrag wat ter sprake is dit regverdig, verkry eerder vanuit die staanspoor professionele regshulp om die ooreenkoms op te stel.