Wat gebeur waar die trustees van ‘n trust nie ooreenstem nie en oorlog teenoor mekaar verklaar? Indien ‘n vriendelike versoek aan ‘n minderheidstrustee om uit die amp te tree nie werk nie, kan die meerderheid hom of haar met mag verwyder? Indien wel, is dit nodig dat hulle goeie redes daarvoor moet hê?
Die eerste stap is natuurlik om te kyk na wat die funderende trustakte oor so ‘n situasie bepaal. ‘n Onlangse uitspraak van die Hooggeregshof het bykomende reëls neergelê waarvan trustees en enigeen wat ‘n belang het in ‘n trust (in enige hoedanigheid) kennis moet neem. In hierdie geval het ‘n moeder te staan gekom teen drie professionele persone (twee ouditeure en ‘n prokureur) en laasgenoemde se poging om die moeder met ‘n ander trustee te vevang. |
“Animosity and difference of opinion are not sufficient to have a trustee removed from office and/or for the majority of trustees to unilaterally force another to vacate his/her office…” (Deel van hierdie uitspraak)
Wanneer onenigheid in ‘n familie ‘n familietrust beïnvloed, is dit dikwels die verhouding tussen die aangestelde trustees en die begunstigdes, en/of tussen die trustees onderling, wat eerste daaronder lei.
Wanneer sulke onenigheid tot deurlopende konflik en onoorbrugbare verskille tussen trustees lei, is die gepaste oplossing dalk vir een of meer van die trustees om vervang te word. Dit is verkieslik as dit met ‘n vrywillige bedanking bewerkstellig kan word. Wat gebeur as ‘n trustee weier om te bedank? Kan die meerderheid trustees hom of haar op ‘n ander manier laat verwyder?
‘n Onlangse uitspraak van die Hooggeregshof handel met hierdie spesifieke vraagstuk.
Drie professionele persone teenoor die begunstigde se moeder
- ‘n Waardevolle eiendom in Knysna word deur ‘n trust besit, wat opgerig is ten behoewe van ‘n paartjie se dogter (op daardie stadium was sy 11 jaar oud, nou is sy 30 jaar oud). Die Meester van die Hooggeregshof (“die Meester”) het vier trustees aangestel. Die aanstellingsbrief het twee ouditeure en een prokureur (“die professionele persone”) aangestel saam met die begunstigde dogter se moeder. Die vader het die eiendom deur ‘n maatskappy en ‘n beslote korporasie as ‘n plaas bedryf. In die hof se uitspraak word daar nie spesifiek na ‘n familietwis verwys nie. Dit is egter duidelik dat die vader hom aan die een kant van die draad bevind, en die moeder en dogter aan die ander kant.
- Die trustakte bevat hierdie klousule – “Die amp van ‘n TRUSTEE sal ontruim word indien … die meerderheid van TRUSTEES ‘n TRUSTEE versoek om te bedank.”
- ‘n Dispuut het tussen die trustees ontstaan rakende die vader se leningsrekening. Die professionele persone voer aan dat die trust rente op die lening aan die vader moet betaal. Die moeder maak hierteen beswaar aangesien daar nooit op die betaling van rente ooreengekom is nie.
- Hierdie aspekte word tydens ‘n telefoniese trusteevergadering bespreek. Hierna stel die professionele persone die moeder skriftelik in kennis dat sy as trustee uit haar amp verwyder word. Drie redes word hiervoor aangevoer – 1) dat sy alle aspekte wat tydens trustvergaderings bespreek word óf verwerp óf teenstaan; 2) dat sy valse aantygings teen die applikante gemaak het; en 3) dat sy erken het dat sy nie oor die nodige kennis beskik om haar pligte as trustee na te kom nie. Die Meester wys die professionele trustees daarop dat hulle nie by magte is om te kan besluit om die moeder as trustee te verwyder nie. Hulle kan haar slegs versoek om te bedank. Hulle gaan dan voort om in ‘n tweede brief aan die moeder ‘n versoek te rig dat sy as trustee bedank.
- Die moeder het natuurlik geweier om te bedank. Die professionele trustees nader die Hooggeregshof dan vir ‘n bevel dat die moeder “haar amp as trustee kwyt is” (“she has lost her office as trustee”). Hulle voer aan dat hulle ingevolge die bepalings van die trustakte opgetree het, dat geen redes vir hulle besluit nodig is nie en dat die Meester geen ander opsie het as om nuwe aanstellingsbriewe uit te reik nie.
- Die klousule lyk opsigself redelik eenvoudig – dit is duidelik dat die professionele trustees werklik geglo het dat hulle in geheel binne hul mandaat opgetree het. Ons kan aanneem dat hulle op ‘n selfversekerde voet met litigasie begin het. Maar, dinge ontvou toe anders as waarop hulle gereken het …
- Die Hof, vir die redes wat hieronder bespreek word, bevind in die moeder se guns. Sy bly gevolglik aan in haar amp as trustee.
Teenstrydighede, die aanvoer van goeie redes, en ubuntu
Die Hof handel met ’n aantal belangrike beginsels. Enigiemand wat betrokke is by ‘n trust kan gerus hiervan kennis neem. (‘n Paar idees in hakies oor hoe om elke aangeleentheid aan te spreek)
- Die Hof beslis dat die trustakte se klousule wat met die verwydering handel, teenstrydig is. Dit bepaal dat ‘n versoek om te bedank (wat dui op ‘n keuse) gevolg sal hê (gebiedend – geen keuse) tot die ontruiming van die amp. Die Hof bevind dat die klousule op werkbare wyse geïnterpreteer moet word. Gevolglik moet ingelees word dat daar altyd goeie redes vir so ‘n versoek moet wees. Verder sal die trustee slegs sy/haar amp ontruim indien die versoek aanvaar is. (Ons sien weer hoe belangrik dit is dat die trustakte duidelik en ondubbelsinnig moet wees.)
- Tweedens, die verwyderingsklousule bevat ‘n geïmpliseerde bepaling wat vereis dat daar altyd goeie redes moet bestaan vir die verwydering van ‘n trustee. “Om trustees toe te laat om mekaar te verwyder sonder om redes aan te voer sal indring teen die publieke beleid en die beginsels van ubuntu, redelikheid en regverdigheid”. (Maak ten alle tye seker dat trustees regverdig optree en goeie redes vir besluite kan aanvoer.)
- Derdens, die professionele persone het nie daarin geslaag om enige regverdiging vir hul optrede te bewys nie. Hulle kon nie op die klousule steun sonder om redes vir hul besluit aan te voer nie. Gevolglik kon hulle ook nie bewys dat die besluit geneem is “op die basis van die diskresie van ‘n goeie persoon wat redelik optree” nie.
- Vierdens, die besluit om die moeder se bedanking te versoek “moes geneem gewees het op ‘n vergadering wat behoorlik belê was, en met die nodige kennisgewing aan alle trustees van hul bedoeling met die vergadering.” Hierteenoor het die trustees besluite “in die geheim en sonder vooraf kennis [aan die moeder] geneem.” Hulle het ook “versuim om behoorlike kennis te gee ingevolge die bepalings van die Wet op die Beheer oor Trustgoed.” (Trustees moet aan alle prosedurele formaliteite voldoen.)
- Laastens beslis die Hof dat daar inderwaarheid geen dooiepunt tussen die trustees was nie. “Besluite in die belang van die trust en trustbegunstigde kan geneem word deur die meerderheid van trustees tydens ‘n vergadering van trustees wat behoorlik belê is. Voldoende kennis van alle aangeleenthede wat by die vergadering oorweeg gaan word, moet gegee word. Dit is nie nodig om die eerste respondent (moeder) te verwyder om die bedrywighede van die trust op ‘n regmatige wyse voort te sit nie.” (Maak seker dat verwydering inderdaad nodig is).