Ongeag die geleenthede en uitdagings wat 2020 inhou, gaan die vestiging van ‘n nuwe besigheid altyd sorgvuldige beplanning vereis.
Indien jy dus oorweeg om die opwindende uitdaging aan te pak om ‘n entrepreneur vir jou eie rekening te word, moet jy vooraf ‘n volledige plan in plek stel.
Ons deel nege wenke oor hoe om daardie beplanningsproses aan die gang te sit. Hier is skakels na ‘n aanlyn vraelysie vir selfevaluering waarmee jy jou Entrepreneurs-potensiaal kan bepaal (“Entrepreneurial potential self-assessment”); na bronne van inligting oor skarefinansiering (“crowdfunding”), en ook na ‘n opwindende nuwe regeringsinisiatief waarmee jy jou besigheid in een dag kan registreer.
“Just do it!” (Nike)
Jy en jou fantastiese besigheidsidee kan nie wag om jou 9 tot 5 pos vaarwel te roep en jul eie nuwe onderneming te begin nie. 2020, Hier kom ons! Maar is hierdie die regte tyd om so iets aan te pak?
Natuurlik sal niemand weet wat ons ekonomie in 2020 gaan maak nie. Gaan ons ekonomie ‘n welkome herstel maak en tot nuwe hoogtes sweef, of gaan dit maar op die lae trajek voortgaan?
Een van die wonderlike aspekte daarvan om ‘n nuwe klein besigheid te begin is dat dit nie werklik saak maak nie. Mits jy noukeurig beplan, en mits jy aanpasbaar is en gereed is om enigiets te hanteer wat na jou kant toe kom.
Hier is ‘n paar gedagtes oor hoe om daardie beplanningsproses te begin …
1. Verkry die regte professionele hulp
Bo en behalwe al die regs-, rekenkundige en belastingbeplannings-aspekte wat jy in gedagte moet hou, is dit ook aanbevole om jou idees met jou professionele adviseurs te deel en hulle kommentaar daaroor te verkry. Doen dit eerder voordat jy te veel tyd, moeite en geld aan jou nuwe onderneming bestee.
Meer daaroor hieronder…
2. Vra jouself af, “Is ek ‘n entrepreneur?”
Nie almal is daarvoor uitgeknip om ‘n klein besigheid te bedryf nie. Aan die een kant kan jy uitsien na ‘n goeie dosis opwinding en avontuur. Aan die ander kant kan jy beslis meer uitdagings verwag wanneer dit kom by jou werk-lewe-balans, risiko, angs en stres. Die persoonlike en finansiële belonings kan aansienlik wees, maar bekommernisse van ontwrigting, agteruitgang en mislukking gaan jou waarskynlik altyd bybly (niks is seker nie, en niks hou vir ewig nie!).
Maak jou gesin van die begin af betrokke – hulle gaan elke tree van hierdie reis saam met jou stap!
3. Toets jouself aanlyn
Sit 10 minute opsy om ‘n aanlyn vraelysie te beantwoord, soos die “Business Development Bank of Canada” se “Entrepreneurial potential self-assessment”, beskikbaar op hul webwerf. Maak dan afsprake met jou professionele adviseurs om hul kommentaar daarop te verkry. (Terug by punt 1 hierbo).
4. Besluit vooraf op ‘n besigheidstruktuur
Hierdie is noodsaaklik: die belasting, finansiële, regs- en praktiese gevolge daarvan as dinge verkeerd gedoen word, kan aansienlik wees. Alhoewel jy op ‘n latere stadium sou kon oorskakel van byvoorbeeld ‘n eenmansaak na ‘n maatskappy/trust struktuur, is dit beter om dit te probeer vermy. Doen dit liewers van die begin af reg met professionele advies (sien weer punt 1 hierbo).
5. Bepaal hoe die finansiering gaan werk
Dit maak nie saak of jy ‘n groot hoeveelheid fondse vooraf benodig of nie, jou besigheidsidee sal nie van die grond af kan kom sonder finansiering nie. Die eerste stap is om te bepaal hoeveel jy gaan benodig – die skarefinansierder Kickstarter het ‘n nuttige kontrolelys vir beplanning op sy “Funding” webwerf.
Die volgende stap is om te bepaal waar die fondse vandaan gaan kom. Kan jy die oprigting van jou nuwe besigheid self finansier; en indien wel, is dit wys om dit so te doen? Gaan jy ‘n lening van vriende of familie of ‘n bank oorweeg? Dalk kan jy ‘n welvarende vennoot of ‘n engelbelegger aan boord bring? Dit kan dalk die moeite werd wees om te kyk na skarefinansiering – afgesien van Kickstarter en ander soortgelyke organisasies, oorweeg ook plaaslike platforms – Google “Crowdfunding in South Africa” vir ‘n lys, en lees ook Jumpstarter se “Crowdfunding in South Africa!” hier. Die Suid-Afrikaanse Regering kan ook ‘n rol speel – lees “Where do I get assistance to establish a small business?” op die Regering se Inligting webwerf vir ‘n lys.
Dit is noodsaaklik om spesifieke professionele advies oor jou betrokke omstandighede te verkry.
6. Bou ‘n sterk, dinamiese span
Jou personeel gaan die ruggraat van jou besigheid wees. Ongeag of jou span groot of klein gaan wees, of jy personeel intern gaan aanstel of gaan uitkontrakteer en of jy meestal bestuurders of ondersteuningspersoneel gaan aanstel. Hier moet jy wyse besluite neem. Kyk na mense met verskillende agtergronde en met verskillende vaardighede om ‘n dinamiese span saam te stel. ‘n Span wat mekaar aanvul, wat dinamies is en wat baat vind by die kruisbestuiwing van idees en skeppende energie.
7. Bemark, bemark, bemark!
Dit maak nie saak hoe briljant jou produk of diens is nie, dit het geen waarde totdat jou teikenmark jou daarvoor betaal het nie. En dit sal slegs gebeur as hulle weet wat jy doen en hoe jy hulle kan bevoordeel. Dit klink voor die hand liggend, maar baie nuwe besighede misluk as gevolg van ‘n gebrek aan beplanning oor hoe om die nodige blootstelling te verkry.
Met die lawaai van bemarkingsveldtogte wat in ons ore druis, is dit belangrik om ‘n manier te vind om gehoor te word – prioritiseer bemarking, anders loop jy die gevaar dat jou besigheid gaan misluk.
8. Vir ‘n maatskappy, spring weg met Biz Portal se “Een Dag, Een Stop” (“One-Day, One-Stop”) aanlyn platform
Die CIPC (Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom) het sopas hul nuwe “Biz Portal” aanlyn besigheidsregistrasie-platform van stapel gestuur. In samewerking met SARS, WVF (UIF), die Vergoedingsfonds, B-BBEE Kommissie, die .za Domeinnaam Gesag, en verskillende banke, beloof die platform om te help om jou nuwe maatskappy in slegs een dag te registreer (dit neem gewoonlik 40 dae!). Die platform sal jou ook help met belastingregistrasies, domeinname, ‘n bankrekening, ‘n BEE sertifikaat, en soortgelyke dienste.
Slegs tyd sal leer hoe doeltreffend hierdie welkome inisiatief gaan werk. So ‘n platform kan uit die aard van die saak nie vir jou al die noodsaaklike individuele advies gee waarna ons deurentyd verwys nie. Verkry professionele advies, voordat jy hierdie platform gebruik!
9. Die gevoltrekking: Doen dit en kom aan die gang!
Of soos Richard Branson dit pittig stel: “Screw it – just do it!”