Direkteure en bestuurders – Karteloptrede – wye strafregtelike aanspreeklikheid
“A cartel involves an agreement or concerted practice between two or more competitors to engage in fixing prices and/or trading conditions, dividing markets and/or collusive tendering. By artificially limiting competition that would normally prevail between them, firms avoid exactly the kind of pressures that lead them to innovate, both in terms of product development and production methods. This results ultimately in high prices and reduced consumer choice.” (Aldus die Mededingingskommissie.)
Dit lyk of die regering ernstig en vasberade is om enige kartelvorming en karteloptrede uit te wis. Die Wet op Mededinging is onlangs gewysig met ernstige strafregtelike gevolge vir enige oortreder. Daar is reeds voorsiening vir omvangryke strawwe vir enige maatskappy wat die wet oortree. Enige direkteur of bestuurder van ‘n besigheid wat aan ‘n verbode praktyk skuldig bevind word, staar ook nou persoonlike vervolging in die gesig. Die strawwe is ook ernstig, met maksimum boetes van R500,000 en moontlike gevangenisstraf van ‘n maksimum van 10 jaar.
‘n Verbode praktyk word omskryf as optrede tussen mededingers:
- waardeur ‘n koop- of verkoopsprys, of enige handelsomstandighede, direk of indirek, vasgestel word;
- waardeur markte verdeel word deur die toewysing van klante, verskaffers, handelsgebiede of spesifieke goedere of dienste;
- waardeur saamgespan word om tenders te verdeel.
Daar is selfs sprake dat nog swaarder sanksies oorweeg word en ingevolge spesifieke teenkorrupsie wetgewing voorsien word (lewenslange gevangenisstraf, permanente verbod op deelname aan openbare tenders ensovoorts).
Hierdie strawwe vir direkteure en bestuurders in hul persoonlike hoedanigheid is bykomend (en nie ter vervanging nie) tot enige strawwe en sanksies wat die onderliggende besigheid opgelê kan word.
Hier behoort direkteure en bestuurders nie enige kanse te vat nie. Verkry professionele advies voordat jy enige besluite neem wat in stryd is met hierdie wetgewing.